WAT DOEN ONS
LEEF VOLUIT VIR JESUS!!!
Is Agapé Gemeente Potchefstroom se jaar tema vir 2025. Jesus moet Here wees in elke fasset van jou lewe, wat ookal jy doen, dink of sê.
Matt: 6:33 “Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg…Leef vandag voluit vir God!”
Elke mens het ’n Lewensdoel, of jy dit weet of nie, jy het een. Ons by Agapé wil graag saam met jou ’n pad stap sodat jy nie daardie lewensdoel sal mis nie. Ons glo dat God juis Sy Lewensdoel aan jou wil bekend maak, sodat jy sin en doel kan hê in die lewe, deurdat jy God kan dien en jou medemens kan help om ook sy/haar lewensdoel te ontdek. Ons glo hierdie doel is Eerstens om God te ken en Tweedens om ’n verskil in ander mense se lewens te maak vir die positiewe, deur hulle te lei na Jesus om die Ewige Lewe te beërwe.
Daarom is ons vas oortuig dat die Here reeds besig is om in jou hart te werk en wil ons dan ons hand van vriendskap en hulp uitsteek en begeer ons dat jy ook hierdie waarheid in jou eie lewe sal ervaar.
Agape gemeente is ‘n groep mense wat juis saamwerk om vanuit die omgee van gemeente-wees die wêreld te betree soos wat God dit betree: met die begeerte om deur ons lewe van diens ‘n verskil te maak. Ons lewe met betekenis deur vir ander mense om te gee en hulle te dien met die gawes en vermoëns wat ons Skepper aan ons gegee het.
WAT MOET JY AANTREK?
Kom net soos jy is! Ons kyk nie na kleredrag, haarstyle of jou motor nie. Kerk is die één plek waar almal gelyk is voor die Kruis. Ryk en arm, jonk en oud, met ‘n das of met ‘n kortbroek: by ons sal jy altyd vriendelik ontvang en met ‘n groot glimlag by die deur gegroet word.
WAT KAN JY TE WAGTE WEES?
Moenie bekommerd wees nie, jy gaan dadelik tuis voel by ons! Almal sê ons is hartlik, vriendelik en “genuine-mense-mense”. Kom kyk self.
Ons musiek-styl is ‘n mengsel tussen tradisionele “halleluja-liedere” tot Onbeskaamd, Retief Burger, Hillsong en komposisies van ons eie musikante. Dit gaan vir ons om met GOD te “connect” en nie oor ‘n “performance” nie. Neem deel en sing jou hart uit… saam maak ons God se Naam groot!
Aansluitend by die tema, mag daar ‘n video-clip, musiek of ‘n praktiese uitbeelding wees wat sal bydra tot die begrip van die boodskap.
Ons predikers preek praktiese Bybelse boodskappe, wat op die man af is en ’n appèl rig na die hoorder se hart. As jy dit nie Maandag in die werksplek kan gaan uitleef nie, het ons misluk.
WAT IS JULLE DIENSTYE?
Sondagoggende:
- 09:00 Erediens in die Kerk
- 09:00 IMPACT KIDZ die JeugKerk en ook CONNECT JUNIOR kom bymekaar in die Jeugsaal en verskillende lokale. Die saal vorm deel van die hoofgebou waar u kinders veilig versorg sal word. So ook die Klaskamers vir Sondagskool, afsonderlike ouderdomsgroepe.
- 18:00 Dinsdaeaande is dit VERITAS Opleiding vir daardie wat bewus van God se roeping op hulle lewens. Die kursus bied die geleentheid dat studente of ‘n Teologiese Sertifikaat of Diploma kan verwerf oo ‘n tydperk van 3 jaar.
- 10:00 Woensdaeoggende is dit Koinonia, daardie Bybelstudie vir die gemeente wat die tyd kan afstaan.
- 18:00 Donderdaeaande is WOORDWAKKER Woordskool wat Aktuele onderwerpe hanteer en Informeel en interaktief is waar ons almal leer van mekaar. Die fokus is Bybelse lering vir die wat juis daarop gemik is om dissipels te maak van mense. Almal is egter welkom om weer met ’n vars oor te luister na wat die Christen lewe verg en verlang.
- 18:00 Vrydagaande is daar geleentheid vir die junior jeug, laerskool ouderdom om dan Junior Connect Jeug te kan bywoon, sommer lekker saam kuier en speel en eet.
- 18:00 Vrydagaande is dit die ENGAGE Jeug, vir Hoërskoolkinders en jongvolwassenes, wat nog ‘n dieper verhouding met die Here begeer. Hier word karakter gebou en identiteit in Christus bevestig.
Moenie Vergeet van die 1 ste Linie Agapé Mannebediening nie, wat eenkeer per maand, gewoonlik die eerste Saterdag van die maand, om 10 uur by mekaar kom. Dit is spesifiek vir daardie manne wat nie net hou van braaivleis en kuier nie, maar wat ook geestelik wil vorder sodat hulle vaste spys uit God se Woord kan deel en geniet. Sien die afkondigings tydens dienstye en ook dan op die verskeie whatsapp groepe.
Na-afloop van die Oggend Erediens, bedien ons gratis filter-koffie, vrugtesap, en dikwels ook verversings.
WAT DOEN JULLE VIR GEESTELIKE GROEI?
Aanvullend tot ons eredienste (wat fokus op praktiese boodskappe vir ‘n gesonde christen-leefstyl), bied ons ‘n verskeidenheid kursusse aan om jou te help om dieper in die Woord te delf.
Preek reekse en boodskappe kan ook verkry word Gratis en jy kan dit aanvra per sms of epos, en ons kan dit dan per whatsapp of epos vir jou aanstuur.
MEER OOR AGAPÉ GEMEENTE?
Agapé is ons gemeente-naam, wat beteken “Goddelike liefde”. Dit is ons begeerte om die liefde van Jesus met álle mense te deel.
Agapé bestaan reeds vanaf 1951 in Potchefstroom. Ons is deel van die Kerk van die Nasarener (Church of the Nazarene International), ‘n denominasie wat in 1908 tot stand gekom het en tans meer as 30,000 gemeentes het in 179 lande. Ons het 610 gemeentes in Suid Afrika.
Ons is ‘n evangeliese kerk, wat beteken dat dit ons missie is om mense vir die Here te wen, en hulle te help om geestelik te groei. Ons fokus op “wedergeboorte” (Joh 3:3) en “heiligmaking” (Heb. 12:14). Sonder hierdie twee ondervindings, kan jy nie hemel toe gaan nie.
MAAK MET ONS KONTAK!
Skakel gerus 018 294 5611 of 083 458 7171 weeksdae 08:00-16:00.
Stuur vir ons ‘n epos na info@agapegemeente.co.za
Loer in by ons Facebook Bladsy en “like” ons asb! https://www.facebook.com/KerkvandieNasarener/
Of blaai verder deur die onderskeie bladsye van hierdie webblad!